|
|
Werk en werkers Aanhalings
| |
<< Terug na Onderwerp Lys
Werk is goed, solank jy net nie vergeet om te lewe nie. ~ Unknown - Afrika-spreekwoord
Om te rus kry jou nie daar nie. ~ Unknown - Ugandese spreekwoord
Werk verban daardie drie groot euwels: verveling, verdorwenheid en armoede. ~ Voltaire
Die mens is gebore vir optrede. Om nie besig te wees en om nie te bestaan nie, is dieselfde ding. ~ Voltaire
Arbeid is dikwels die vader van genot. ~ Voltaire
Vakbonde gebruik selde, indien ooit, die mag wat hulle het om beter werk te verseker; byna altyd wend hulle 'n groot deel van hul mag aan om swak werk te beveilig. ~ H.L. Mencken
Werk is die onvermydelike voorwaarde van die mens se lewe, die ware bron van menslike welsyn. ~ Leo Tolstoy - My godsdiens
Vakbonde is die slegste ding wat ooit die aarde getref het omdat hulle 'n mens se onafhanklikheid wegneem. ~ Henry Ford
Daar is niks wat 'n mens so in staat stel om sy probleme te oorbrug en te oorleef, soos die wete dat hy 'n unieke taak het om te vervul nie. ~ Viktor Frankl
Vir mense om gelukkig te wees in hulle werk, is hierdie drie dinge nodig: hulle moet geskik wees daarvoor, hulle moet nie te veel daarvan doen nie, en hulle moet 'n gevoel van sukses in die werk hê. ~ John Ruskin
Geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit 'n oorpak aanhet en na werk lyk. ~ Thomas A. Edison
Die wêreld die draai: Vir die swaar wintertyd om ons lande te saai - Of om luilekkerlewend die ploeg te laat roes, En daarna ons vrugte of onkruid te oes.
~ C.J. Langenhoven
Stuur die luiaard na die miere en hy sal daar rondom die miere lê en hy sal hom verlustig in die vlyt en bedrywigheid wat aan die gang is. Want hy hou van werk - die luiaard: solank as dit nie hy is wat werk nie. ~ C.J. Langenhoven
Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom. ~ C.J. Langenhoven
Kla oor die kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het. ~ C.J. Langenhoven
Daar is geen luiaard wat glad nie wil werk nie. Hy verlang maar net na 'n ander soort werk as die wat hy nou moet doen. ~ C.J. Langenhoven
Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry. ~ C.J. Langenhoven
Die luiaard is die enigste man wat van sy slaap sal moet rekenskap gee. ~ C.J. Langenhoven
Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie. ~ C.J. Langenhoven
Met gehoorsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees. ~ C.J. Langenhoven
Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen die wat die misverstand jou sou gekos het. ~ C.J. Langenhoven
As sport ons daaglikse plig was, sou ons die werk wat ons nou moet doen byderhand neem vir ons plesier. ~ C.J. Langenhoven
Die man wat vandag hierdie vak bevlieg en môre daardie wys self dat hy nie weet wat sy roeping is nie. Sy inkomste wys dit ook. ~ C.J. Langenhoven
Salomo het by 'n luiaard se akker verbygeloop. Had hy bietjie vertoef dan kon hy gebie het op die vendusie. ~ C.J. Langenhoven
Hoe swaarder 'n man aan sy goed gekom het, hoe swaarder bring hy daaraan deur. Swaar-kry: lekkerkry; lekker-kry: swaarkry
~ C.J. Langenhoven
Daar is een goeie ding wat 'n slaaf soms koop wat vir sy baas te duur is. Die goeie ding is rus en die prys is arbeid. ~ C.J. Langenhoven
Daar is mense wat kan doen wat hulle wil, maar dit is die wat wil doen wat hulle kan. ~ C.J. Langenhoven
Ek was so besig om kanse te soek dat ek my geleenthede een vir een laat verbyglip het. ~ C.J. Langenhoven
Die ryk man het mos nie nodig om so suinig te wees nie. Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie: hy is 'n suinige man wat ryk geword het. ~ C.J. Langenhoven
Help jou swakke mededinger op die bene bly. As hy tot niet gaan, kom daar straks 'n sterke in sy plek. ~ C.J. Langenhoven
Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus. ~ C.J. Langenhoven
Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk. ~ C.J. Langenhoven
Welvaart is die dogter van matigheid en die moeder van weelde. ~ C.J. Langenhoven
My swaarste pad trap ek self vir my plat, en swaarste is die wat my voete nooit vat. ~ C.J. Langenhoven
Die man wat ek na soek, is nie die wat die minste foute maak nie, maar die wat die meeste foute regmaak. ~ C.J. Langenhoven
En vêrder die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie. ~ C.J. Langenhoven
Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n baas jou sal laat vroeg opstaan. ~ C.J. Langenhoven
'n Man wat oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie. ~ C.J. Langenhoven
Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet. ~ C.J. Langenhoven
Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander. ~ C.J. Langenhoven
In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei. ~ C.J. Langenhoven
Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees. ~ C.J. Langenhoven
'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Die wat hy nie wegja nie loop weg. ~ C.J. Langenhoven
Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur. ~ C.J. Langenhoven
Vir sy eie voordeel beklee 'n man 'n beroep; vir die voordeel van sy ewemens volg hy 'n roeping. ~ C.J. Langenhoven
'n Goeie ambagsman kry nooit sy werk na sy eie sin nie; 'n slegte kry dit nooit na die sin van sy klandisie nie. ~ C.J. Langenhoven
Elke artikel wat hy maak is 'n nuwe skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne en 'n ander kon dit nie so gemaak het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet. ~ C.J. Langenhoven
Die slegte ambagsman beveel sy werk aan; goeie werk beveel sy ambagsman aan. ~ C.J. Langenhoven
So 'n ambagsman is die gelukkigste mens op die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus. Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie. Nie om die prys of die loon nie, maar om die heerlikheid van sy werk, werk hy. ~ C.J. Langenhoven
Ploeg self op die klip land en gee vir jou kneg die sagte grond. Dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook. ~ C.J. Langenhoven
Moenie by die huis rondlê en jou knegte werk toe stuur nie. As jy vir jou eie belange traag is, hoe kan jy verwag dat hulle vir 'n ander s'n ywerig moet wees? ~ C.J. Langenhoven
Doen jou eie werk. Dis verveliger om te wag solank as 'n ander jou ketel kook as wanneer jy hom self kook. Tog gaan dit gouer, wat hy is nie so spaarsaam met die hout nie. ~ C.J. Langenhoven
Om die luiaard gisteraand nie moeg was nie, het hy vannag nie gerus nie en daarom is hy vanmôre nog lui. ~ C.J. Langenhoven
Die goedkoopste manier om aan jou lewensmiddel te kom is om daarvoor te werk. Die duurste is om dit te steel. ~ C.J. Langenhoven
As jy geen stuk kennis het van die ambag waar jy 'n man voor huur nie, bekyk sy gereedskap. Hy sal nie in jou belang oppassender wees as in sy eie nie. ~ C.J. Langenhoven
Staan by die man wat by die dag werk om te sien dat hy nie te stadig is nie, en by die man wat by die stuk werk om te sien dat hy nie te haastig is nie - of huur twee, een by die dag en een by die stuk, en laat die een die ander skaam maak. ~ C.J. Langenhoven
Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel. ~ C.J. Langenhoven
As jy jou werk sleg doen omdat jy jou loon te min beskou, sal jy nooit goeie werk doen nie: want jy sal nooit genoeg loon kry na jou eie sin nie. ~ C.J. Langenhoven
Ons betaal ons onwillige knegte altyd te veel, ons gewilliges altyd te min. ~ C.J. Langenhoven
Betaal 'n donkie se prys en moenie 'n perd se diens te wagte wees nie - maar jy betaal maklik 'n perd se prys en jy kry 'n donkie se diens. ~ C.J. Langenhoven
Daarom het Adam en Eva die Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle niks gekos het nie. ~ C.J. Langenhoven
'n Man wat nog nooit self iets bymekaar gemaak het nie, het altyd slim planne hoedat 'n ander sy geld behoort te gebruik wat daarvoor gewerk het. ~ C.J. Langenhoven
Die geluk van die skyf is by die roer, en die geluk van die oes by die boer. Die belangstelling van die kneg moet jy toekry: jy kan dit nie huur nie. ~ C.J. Langenhoven
As ek die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: "Ek het hom by sy werk gekry." ~ C.J. Langenhoven - Ons weg deur die wêreld, 1913
Geen dag is lank vir iemand wat werk nie. ~ Seneca
'n Skim hang oor Europa, die skim van Kommunisme. ~ Karl Marx - Inleiding tot Die Kommunistiese manifes, Londen, 1848
Die werkers het niks om te verloor behalwe hul kettings. Hulle kan 'n wêreld wen. Werkers van die wêreld, verenig! ~ Karl Marx - Die Kommunistiese manifes
Baie mense dink dat noudat uhuru bereik is, noudat ek die son van vryheid sien skyn, rykdom sal reën soos manna van die hemel. Ek sê vir julle daar sal niks van die hemel kom nie. Ons moet almal hard werk met ons hande, om ons te red van armoede, onkunde en siekte. ~ Jomo Kenyatta
Die take wat jy voltooi het, het jou onsterflik gemaak. ~ Lao-tse
Geen ras kan bloei voordat dit nie geleer het dat daar net soveel waarde is in die bewerking van 'n land as in die skryf van 'n gedig nie. ~ Booker T. Washington
Labor omnia vincit - Arbeid oorwin alles. ~ Vergilius
Die maker van die werk het heengegaan, tog bly die werk self nietemin bestaan. ~ Ovidius
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 6:6-9
Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval armoede jou soos 'n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker. ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 6:10-11
Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie. ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 12:11
Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek. ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 14:23
'n Werker se honger laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom. ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 16:26
'n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie. ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 20:4
Die lui mens sê: "Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!" ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 22:13
Die luiaard se verskoning is: "Daar is 'n leeu in die pad! Daar is 'n leeu in die straat!" ~ Die Bybel - Salomo, Spreuke 26:13
Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. ~ Die Bybel - Prediker 10:18
Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie. ~ Die Bybel - Prediker 11:4
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort... ~ Die Bybel - Prediker 11:6
...net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word. ~ Die Bybel - Genesis 3:19
<< Terug na Onderwerp Lys
|