|
|
Idiome - H
| |
Terug na IndeksElke haan is koning op sy eie mishoop. - Elkeen is baas op sy eie gebied.
Baie honde is 'n haas se dood. - Teen 'n oormag kan jy nie staande bly nie.
Hy sleep dit met die hare daarby in. - Hy haal dit op terwyl dit eintlik nie by die argument tuishoort nie.
Hy spring van die hak op die tak. - Hy gaan skielik oor van die een onderwerp na die ander.
Hy lewe van die hand in die tand. - Hy gee uit wat hy verdien. Hy lewe in armoede.
So min soos jy met jou hand aan die hemel kan vat. - Dis onmoontlik.
Steek jou hand in eie boesem. - Ondersoek jouself.
As die een hand die ander was, word albei skoon. - As jy 'n ander help, bevoordeel dit jou ook.
Hy dra nie sy hart op sy mou nie. - Hy wys nie maklik hoe hy oor 'n saak dink nie.
Die heler is so goed as die steler. - As jy medepligtig is en gesteelde goed aanneem, is jy net so skuldig soos die een wat gesteel het.
As die hemel val, is ons almal dood. - Gebruik teenoor iemand wat altyd groot besware sien.
Die hemp is nader as die rok. - Sorg eers vir jou eie gesin en familielede; daarna kom die ander.
Jy kry die hond in die pot. - Jy kom na die ete êrens aan.
Honde wat blaf byt nie. - Hulle wat net dreig, gaan nie oor tot dade nie.
Daardeur hoop hy vurige kole op jou hoof. - Daardeur vergeld hy kwaad met goed.
Hy sal die horrelpyp dans. - Hy sal 'n loesing kry.
'n hemelbesem - 'n baie lang persoon
Jou op die haai vlakte bevind - jou op die kaal en verlate vlakte bevind waar daar geen skuiling is nie.
Geen haan sal daarna kraai nie - niemand sal ooit iets daaroor rep nie.
Net 'n hanetreetjie - slegs 'n kort afstand.
Moenie jou kom haantjie hou by my nie - moenie so astrant wees in my teenwoordigheid nie.
Geen lui haar op jou kop hê nie - fluks wees.
Hare kloof - beuselagtige onderskeidings maak.
Hoe meer haas, hoe minder spoed - hoe haastiger jy is, hoe minder kry jy iets uitgerig.
Vir jou probleme op die hals haal - self die oorsaak van jou probleme wees.
Met hals en mag - met alle krag en geweld.
Dis nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie
- dis nie om die doel wat voorgegee word nie, maar met 'n bybedoeling
Iemand iets hand en mond belowe - iemand iets met groot erns belowe.
Met hand en tand beveg
- met alle mag beveg.
Die hand diep in die sak steek - baie betaal; baie geld gee vir 'n saak.
My hande is afgekap - ek is magteloos.
Iemand onder hande neem - iemand berispe.
Ek is so oud soos my hande, maar nie soos my tande nie
- skertsend gesê wanneer iemand nuuskierig vra hoe oud jy is, maar jy die vraag wil ontwyk.
Sy hande staan vir niks verkeerd nie - hy is so vaardig met sy hande dat hy alle soorte handewerk kan doen.
Handgemeen raak - slaags raak, baklei.
nie handvol nie, maar landvol
- daar is baie om van te kies.
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor - 'n mens is geneig om baie te praat oor dié dinge waaraan jy baie dink.
Jou hart aan iets ophaal - jou daarin verlustig.
Sy hart sak in sy skoene
- sy moed begeef hom heeltemal.
Van jou hart 'n moordkuil maak - nie in woorde sê wat in jou gemoed omgaan nie.
Elke hart het sy smart - elke mens het sy eie sorge en hartseer.
Heelhuids/Goed van iets afkom - ongedeerd van iets afkom.
Net vir 'n heen-en-weertjie na die bure gaan - die bure net vir 'n kort kuiertjie besoek.
Sag heengegaan - vredig gesterf.
Die hef in die hande hê - baas wees, die mag hê.
Met die helm gebore wees - gebore wees met die (veronderstelde) gawe om vooruit te sien wat in die toekoms gaan gebeur.
Hemel en aarde beweeg
- alles in die werk stel, alles in 'n mens se vermoë doen (om jou doel te bereik).
Uit die blou hemel - onverwags.
In die sewende hemel wees - baie gelukkig wees.
Herwaarts en derwaarts - hiernatoe en daarnatoe.
Iemand heuning om die mond smeer - iemand vlei.
Almal hiet en gebied - almal links en regs beveel.
Jou hoed vir iemand afhaal - iemand bewonder.
Jy kan jou hoed agterna gooi dat... - jy kan baie bly wees dat...
As jy 'n hond wil slaan, kry jy maklik 'n stok - as jy iemand wil benadeel, kan jy maklik 'n kamtige rede vind om dit te doen.
Agter elke hond aan blaf - ander napraat sonder om 'n eie mening te hê.
Hond se gedagtes kry - agterdogtig raak.
'n Hond uit 'n bos gesels - vreeslik lekker gesels.
Ek kon nie hond haar-af maak nie - ek kon niks uitgerig kry met die taak wat ek wou of moes verrig nie.
Oor die hond se stert (of rug) wees - oor die ergste of die moeilikste wees.
Eie honde byt die seerste - jou eie mense kan jou die meeste leed besorg.
'n Hondelewe lei - 'n ellendige bestaan voer.
Kommandeer jou honde en blaf self
- doen self wat jy voorstel en moenie van ander verwag om dit vir jou te doen nie.
Honger is die beste kok - as 'n mens honger is, smaak alle kosse vir jou lekker.
Soveel hoofde, soveel sinne
- soveel mense, soveel menings.
Te veel hooi op jou vurk neem - meer onderneem as wat jy kan uitrig.
Hot en haar - rond en bont.
Dit hotagter kry - swaar kry.
Uit goeie hout gesny wees - van goeie afkoms of karakter wees.
As dit met die groen hout gebeur, wat sal dan met die droë geskied? - As so iets met gerekende mense kan gebeur, wat dan van diegene wat nie so vernaam is nie?
Die huis (of plek) op horings neem - erg te kere gaan in die huis (of plek).
Elke huis het sy kruis - elke huis het sy sorge en probleme.
Jy sal daarmee nie hond haar-af maak nie. - jy sal daarmee niks uitvoer nie
Ons moet by Jerusalem begin - ons moet by ons eie begin
Terug na Indeks
|