|
|
Idiome - B
| |
Terug na IndeksDit sit my in die bed. - Dit begryp ek nie.
Hy het die saak ter berde gebring - Hy het die saak opgehaal
Bloed kruip waar dit nie kan loop nie. - Jy doen vir jou familie die meeste.
Jy kan dit vir die bobbejane vertel. - Ek glo dit nie
Dis bobbejaanhartseer. - Dis geveinsde hartseer
Die boog kan nie altyd gespan bly nie. - 'n Mens kan nie net werk nie; hy moet rus ook.
Die bordjies is verhang. - Die toestand is verander.
In die land van die blindes is eenoog koning - onder 'n groep mense wat niks van iets weet nie, blink die een mens uit wat wel so 'n bietjie kennis daarvan het.
Hy is in die bol gepik / met die maan gepla / van lotjie getik / het 'n klap van die windmeul weg / het nie al sy varkies op hok nie - hy is nie by sy volle verstand nie
Buig die boompie solank hy jonk is - vorm die kind se karakter solank hy nog klein is
Iemand om die bos lei - iemand uitoorlê / bedrieg
Hy het in die botter geval - hy het dit baie gelukkig getref
Hulle het dit nie breed nie - hulle het nie baie geld nie
Anderman se boeke (briewe) is duister om te lees - 'n mens verstaan moeilik 'n ander se sake
Moenie nou probeer mooi broodjies bak nie - moenie nou op vleierige manier guns probeer win nie
Op sy baadjie kry / streepsuiker kry / riemspring - die onderspit delf / 'n pak slae kry
'n Baan of bohaai opskop - 'n lawaai maak
Iemand van bakboord na stuurboord stuur / van Pontius na Pilatus stuur / van die kassie na die muur stuur - iemand rond en bont stuur sonder dat hy werklik geholpe kom of iets kan uitrig.
Jy slaan die bal ver mis - jy vergis jou heeltemal
Julle moet hom bandvat - julle moet streng optree
Beenaf wees (op 'n meisie) - verlief op iemand
Jy lyk baie bek-af / jou ore hang - jy lyk baie moedeloos, min lus vir die lewe
Dit spreek boekdele - dis 'n sprekende bewys.
Ek laat my nie met 'n blaas ertjies op loop ja nie / ek skrik nie vir 'n koue pampoen nie - ek word nie so maklik bang nie
Hy steek vir almal blad - hy groet almal met die hand
'n Saak blou-blou laat (laat links lê) - 'n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie).
Dit is botter by die vis - kontant betaal
Balsem in die wonde giet - troos bring
Sy boeke is deurmekaar - Hy is in die moeilikheid
Sy is 'n bloukous - Sy is 'n geleerde vrou
Dis botter aan die galg smeer - Dis vergeefse moeite
Hy het my 'n bril op die neus gesit - Hy het my bedrieg
Hy pak die bul by die horings - Hy tree moedig op / Hy gebruik die geleentheid
Hy merk nie die balk in sy eie oog nie - Hy sien nie sy eie foute raak nie
Belofte maak skuld - As jy iets beloof, moet jy jou belofte hou
Nuwe besems vee skoon - As jy 'n nuwe betrekking aanvaar, werk jy baie fluks.
Voor Baäl die knie buig - afvallig word; die ware leer versaak.
Baantjies vir boeties - betrekkings vir vriende en bloedverwante.
Eers baas, dan Klaas - eers die meerdere, dan die mindere.
Vir elke bagatel (aan die huil gaan) - vir elke kleinigheid
Gou by die bak, lui by die vak - gou om te eet, maar stadig om te werk.
Iemand 'n poets bak - iets grappigs doen ten koste van iemand.
Wie sal die kat die bel aanbind? - wie sal hierdie gevaarlike werk durf doen?
'n Goeie begrip het 'n halwe woord nodig - as iemand gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.
Die beste beentjie voorsit - jou bes doen sodat jy 'n goeie indruk kan maak.
'n Berg van 'n molshoop maak / van 'n muggie 'n olifant maak - iets groots maak van 'n nietigheid.
Die berg het 'n muis gebaar - dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie.
Iemand goue berge beloof - mooi beloftes maak.
'n Saak bewimpel - nie met die volle waarheid voor die dag kom nie, onaangenaamhede in verband met 'n saak probeer toesmeer.
'n Nuwe blaadjie omslaan - opnuut begin met die voorneme om beter te doen.
Sonder om te blik of te bloos - onbeskaamd.
Dis laaste sien van die blikkantien - jy sal hom nooit weer sien nie.
Blind vir iemand se foute wees - onwillig wees om iemand se tekortkominge raak te sien.
Sy bloed kook - hy is baie kwaad.
Bloed uit 'n klip tap - iets onmoontliks probeer doen.
'n Bloutjie loop - teleurgestel word in jou verwagtings.
My blus is uit - ek is baie moeg, uitgeput.
Die bobbejaan agter die bult gaan haal - 'n moeilikheid tegemoet loop; jou vreeslik kwel oor iets wat nog glad nie eens gebeur het nie.
Dis 'n geslote boek - dis 'n geheim.
Moenie die boer die kuns afvra nie - moenie te veel uitvra omtrent iets as iemand nie die geheim wil verklap nie.
'n Ou bok hou van jong blare - ou mans hou van jong meisies.
Bokveld toe gaan / lepel in die dak steek - Sterf
Dit gaan so tussen die boom en die bas - dit gaan so-so.
Hoë bome vang die meeste wind - mense in belangrike posisies word die meeste gekritiseer.
Boontjie kry sy loontjie - 'n skelm spring sy straf nie vry nie.
Iemand 'n brander stuur - iemand 'n kwaai brief stuur.
'n Broertjie dood aan iets hê - iets haat.
Dit gaan maar broekskeur - dit gaan maar swaar.
Jy sal dit nie kan bybring nie. - jy sal dit nie kan bekostig nie.
Bitter in die mond maak die hart gesond - onaangename dinge is dikwels goed vir die ontwikkeling van die karakter
Terug na Indeks
|